Hierdie program word nog twee keer vandeesweek uitgevoer: 5 Februarie by die Port Elizabeth-musiekvereniging, NMU se Suidkampus-ouditorium, Port Elizabeth; 10 Februarie in die Etienne Rousseau-teater, SasolburgLinder, Johannesburg
Wat ’n verligting is dit om ’n program wat bestaan uit die werk van drie groot klaviermeesters uit hoogs kontrasterende tydperke met so ’n vlak van integriteit te ervaar, terwyl die laaste van die drietal, die Hongaar Györgi Ligeti (19232006), by die deursnee-konsertganger eintlik nog totaal onbekend is.
Mariangela Vacatello het haar program met een van die bekendste meesterwerke van Beethoven geopen: sy Sonate no. 8 in C mineur, opus 13, bekend as die Pathétique. Struktureel is die invloed van die Klassieke era hier nog opvallend sterk, maar die klank en die soms dramatiese aksentuerings roep reeds die Romantiek op.
Die enorme teenstellings in die openingsdeel gaan gepaard met ’n vrye dog boeiende voordrag wat dinamies baie doeltreffend afgestem is binne haar deursigtige spel.
In deel twee, gemerk adagio cantabile, se vloeiend-verhalende struktuur was haar legato-détaché-onderskeidings indrukwekkend, terwyl die cantabileimpuls natuurlik gevloei het. Die slotdeel, ’n rondo: allegro, het in ’n ligte, bykans ontwapende stemming geopen, maar gou is ’n gepaste dramatiese intensiteit daarby gevoeg soos die deel vorder na sy finale, afdalende toonleer. Oorkoepelend was júis haar volkome natuurlike benadering tot Beethoven – sonder eksentrisiteite – meevoerend.
Chopin het altyd sentraal in Vacatello se repertorium gestaan, maar die bykomende wasdom in die afgelope agt jaar of so het gou duidelik geword. Die Ballade no. 3 in A-mol majeur, opus 47, bied vanuit die werk se aard bykans ekstreme teenstellings tussen tedere liriek en hoog opgevoerde epiese dinamiek. Ondanks haar opvallende skaalvergroting ten opsigte van hierdie genre in die komponis se repertorium, hou sy steeds haar oor op die poësie gerig.
In dieselfde komponis se Sonate no. 3 in B mineur, opus 58, tref Vacatello met haar omvattende breë beskouing op die werk as geheel. Dit besweer die sluimerende gevaar van strukturele verbrokkeling. Sy word die argitek binne die groter vormstruktuur, beklemtoon na wense die uitdagende virtuositeit – en veral so in die voortstuwende Finale, waarin sy asemrowende presiesheid in haar spel openbaar terwyl sy nooit die komponis as synde ’n romantiese lirikus uit die oog verloor nie.
Die manier waarop sy in die Largo die elemente van ’n bel canto aria en ’n nokturne saamsnoer, is magies.
Haar vertolking van die elfdelige Musica Ricercata no. 1 van Ligeti was onverbiddelik en verbysterend. Alleen al die tegniese eise is grensloos, maar ook die komposisionele verwikkeldheid. Ligeti het verskeie bundels etudes (studiestukke) vir die klavier geskryf, wat nou steeds ’n hele geslag pianiste bly fassineer en uitdaag.
Musica Ricercata bied meer kontrasrykheid en, selfs belangriker, ’n vermoë vir die vertolker én luisteraar om met die vindingryke programmatiese onderbou van hierdie miniature vertroud te raak.
Vacatello se kragtoer om Ligeti aan ons bekend te stel, laat ’n wye spektrum van hoogs ontwikkelde vakmanskap op luisteraars los. Verrassendste van alles is dat dié werk toeganklik, verhalend, soms selfs humoristies is en deurdrenk is van vernuf.